Spraakterapie
Spraakterapie


Help my met my "r" klankie - Meneer Tong


Suid Afrika se 9 verskillende provinsies se skakels vir spraakterapie

Gauteng   KwaZulu-Natal   Limpopo   Mpumalanga  Noord-Kaap   Noordwes   Oos-Kaap   Vrystaat   Wes-Kaap


Hakkel: Dis dalk hoekom
Oorsake kan fisiek, psigies wees
Daar is 'n verskeidenheid van redes waarom 'n persoon hakkel. Dit raak mense van enige ouderdom, maar kom die meeste voor onder jong kinders tussen 2 en 6 jaar. Seuns is drie keer meer vatbaar vir hakkel as meisies.

Die meeste kinders ontgroei hul hakkelprobleem en daar word gereken dat minder as 1% van volwassenes hakkel.


Volwassenes wat hakkel
Diegene wat wel hakkel, se lewe is allesbehalwe maklik.

Hakkel het 'n geweldige impak op 'n persoon se sosiale skakeling, aangesien die onvermoë om jouself verbaal uit te druk, 'n kolk van onsekerheid en 'n tekort aan selfvertroue veroorsaak. Die spanning wat so 'n persoon ervaar wanneer hulle moet praat, maak dat hulle selfs meer hakkel en minder selfversekerd raak. Iets soos 'n doodgewone telefoonoproep kan 'n geweldige marteling wees vir iemand wat hakkel.

Die algemene publiek is ook nie juis sensitief teenoor mense wat hakkel nie.

Wetenskaplikes vermoed daar is verskeie oorsake waarom mense hakkel. Dis egter nie seker wat die presiese meganismes is wat hakkel veroorsaak nie.


Vorme van hakkel
Die mees algemene vorm van hakkel is ontwikkelend -teenwoordig in jong kinders wat besig is om spraak en taal te ontwikkel. Dit word gewoonlik ontgroei.

'n Ander vorm is neurogenies. Dit beteken daar is seinprobleme tussen die brein en die senuwees of spiere. Dit volg gewoonlik op 'n beroerte of ander breinbeserings.

Alle ander vorme van hakkel word in hierdie stadium geklassifiseer as sielkundig -- dit ontstaan gewoonlik in die deel van die brein wat met denke of redenering te doen het. Hierdie toestand word vererger wanneer daar emosionele spanning ontwikkel as gevolg van hakkel.

Dit kan ook lei tot die ontwikkeling van fobies, soos om oor die telefoon te praat, of om nuwe mense te ontmoet.

Wetenskaplikes is besig om die moontlikheid te ondersoek dat hakkel oorerflik is.


Kan dit oorkom word?
Daar is geen maklike manier om op te hou hakkel nie.

Die meeste volwassenes wat hul hakkel afgeleer of in bedwang het, sal erken dat dit harde werk, lang ure en volgehoue toewyding verg.

Hakkelterapie kan veral help by jong kinders om seker te maak hulle leer die hakkel af voordat dit 'n lewenslange probleem word. Spraakevaluasie is dus aan te beveel vir kinders wat vir langer as ses maande hakkel.

Ouers kan ook hul kind help om sekere hakkelgewoontes af te leer.

Die beste raad vir volwassenes wat hakkel, is om deel te word van 'n program en toegewyd te fokus om die hakkelgewoonte af te leer of in bedwang te kry.


Ouers se gedrag kan hakkelaartjies help
Baie kinders hakkel en leer dit af soos hulle ouer word.

Die regte benadering deur ouers kan baie hiermee te doen hê. ) Praat stadig en rustig met jou kind. Wag 'n paar sekondes nadat jou kind gepraat het voordat jy antwoord.

Moenie jou kind kritiseer of maan om stadiger te praat nie.

Moenie jou kind vra om hakkelwoorde te herhaal totdat dit vlot gesê word nie. ) Verminder die aantal vrae wat jy op 'n slag vir jou kind vra.

Kinders praat makliker as hulle hul eie gedagtes oorvertel, eerder as om vrae te beantwoord.

Lewer kommentaar op wat jou kind vertel, en moedig hom aan om uit te brei. Sodoende praat jou kind op eie inisiatief en word hy nie gedwing om vrae te beantwoord nie.


* Gebruik jou gesig en liggaamstaal om aan jou kind te wys dat jy luister na wat hy vertel, eerder as hoe hy dit vertel.

Wag vir jou kind om die bedoelde woord te sê -- moenie sy woorde of sinne vir hom klaarmaak nie.

* Sorg dat jy daagliks tyd maak om onverdeelde aandag aan jou kind te gee. Laat jou kind die leiding neem in wat julle doen en hoe julle dit doen. Praat rustig en stadig. Hierdie tydjies bou selfvertroue by jou kind en verseker ook kommunikasie sonder spanning.

* Leer die hele gesin hoe om beurte te maak om te praat en te luister. Kinders praat makliker as hulle nie in die rede geval word nie en die luisteraars se aandag het.

* Wees bewus van hoe jy met jou kind kommunikeer. Laat haar verstaan dat sy genoeg tyd het om te praat. Verminder kritiek, haastige spraakpatrone, onderbrekings en vrae.

* Sorg dat jou kind weet jy aanvaar haar vir wie sy is. Die grootste invloed in haar lewe is die wete dat jy haar ondersteun.

Praat openlik met jou kind oor hakkel as dit ter sprake kom.

Vir inligting oor hakkel, besoek gerus die volgende webruimte: www.speakeasy.org.za


Program help lewenslank
Die McGuire-program is 'n kursus wat ontwikkel is deur mense wat voorheen gehakkel het en dit nie meer doen nie.

Die sukses van die program berus op voortdurende oefening -- amper soos 'n sportprogram.

Daar word taamlik gefokus op deelnemers se vrees om te praat, veral in die openbaar, en om telefoonoproepe te doen.

Die basiskursus bestaan uit drie dae se intensiewe klasse wat op 'n Donderdagaand begin en op 'n Sondagaand ophou.

Die eerste een word van 7 tot 10 April in Kaapstad aangebied.

Die tweede word van 16 tot 19 Junie in Gauteng aangebied.

Na afloop van die kursusse kom studente elke twee weke bymekaar in ondersteuningsgroepe om hul tegnieke en spraak te oefen. Op hierdie vergaderings deel almal ook hul ervarings en gee en ontvang raad oor hoe om spraaksituasies te hanteer.

Die kursusgeld lyk dalk baie, maar daarmee word deelnemers lewenslange lede van die program. Dit sluit die aanvangskursus, persoonlike afrigter, ondersteuningsgroepe, telefoon- en aanlynondersteuning en opleidingsgeleenthede in.
(Beeld - 15 Februarie 2005)


" Na Bo "

KOPIEREG 2009-2024 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.