Kindersiektes
Kindersiektes


Die volgende lys maak melding van 'n paar kindersiektes.

Asma
Oorsaak: Allergie vir vreemde stowwe of infeksie van die lugweë.
Verskyning: Wanneer die lugweë deur 'n veroorsakende stof geprikkel word, of wanneer daar 'n skielike wending intree in die lugtemperatuur en -vogtigheid.
Simptome: Taai slymafskeiding in die lugpype; hortende en fluitende asemhaling; krampagtige hoesbuie,
benoudheid; angs. Aanvalle kom veral snags voor wanneer die temperatuur daal en die lug se voggehalte styg.
Duur: Solank ongunstige atmosferiese toestande heers, of totdat infeksie en angs bedwing is. Sommige gevalle word in puberteitsjare ontgroei.
Gevare: 'n Akute aanval kan ernstige asemnood en suurstoftekort meebring. Herhaalde aanvalle verswak asemhalingsvermoë en miskien ook die hart.
Behandeling: Vir noodbehandeling, gee voorgeskrewe middels byvoorbeeld medisyne of stuifpompie. Vertoef by die kleuter en praat kalm met hom/haar. Op die lange duur, laat die oorsaak bepaal, immuniseer. Hou slaapvertrek stofvry. Vermy verekussings en wolkomberse. Hou die temperatuur van die slaapvertrek konstant - nooit onder 21 grade. Asemhalingsoefeninge onder leiding van n fisioterapeut. Sport is wenslik, maar bring soms 'n asma-aanval by lyers aan.

Brongitis
Oorsaak: Meestal 'n komplikasie van verkoue, sinusitis of griep. Infeksie deur verskillende soorte kieme. Prikkelende stowwe, soos gas of stof.
Verskyning: Wanneer slymvlief van lugpype opgehewe en ontsteek raak.
Simptome: Algemene olikheid; koorsigheid; verlies van aptyt; soms hoof en maagpyn; braking. Fluitende asemhaling wat later omsit in skor hoesbuie.
Duur: Sewe tot 10 dae tensy die infeksie gunstig reageer op 'n voorgeskrewe middel, byvoorbeeld 'n antibiotikum.
Gevare: Oor- en longontsteking
Behandeling:Verpleeg die kind in die bed in 'n warm, vogtige vertrek (ongeveer 21 grade celcius). Stoominademing mag gedurende akute gevalle nodig wees. Ontbied die geneesheer as die kind in asemnood verkeer, sy tempratuur bokant 38 grade selsius styg, as hy geel slym uithoes of as hy geneig is tot herhaalde infeksie van die lugweë. Hospitaalbehandeling is soms nodig vir jong kinders.

Duitse Masels
Oorsaak: Baie oordraagbare virus in keel en boonste lugweë.
Verskyning: Veertien tot 21 dae na blootstelling; kom in epidemies voor.
Simptome: Effense koors, mag 2 dae duur; gaan gepaard met effense rooiheid en ontsteking van die keel, en gewrigspyn; die kenmerkende, gespikkelde rooi uitslag verskyn op die vel en slymvlies van die mond op die eerste dag van olikheid (teenoor masels se uitslag wat na 5 dae van knieserigheid verskyn). Opgeswelde nekkliere.
Uitslag mag so lig en van korte duur wees dat dit ongemerk verbygaan.
Duur: Twee tot 4 dae.
Gevare: Pasiënt ondervind selde komplikasies, maar dit hou gevare in vir ongebore babas as hul moeders tydens die eerste 3 maande van swangerskap Duitse masels opdoen. Daarom het dit gebruik geword om meisies op 'n vroeë leeftyd te immuniseer of opsetlik aan die siekte bloot te stel.
Behandeling: Bedrus en afsondering tydens die akute stadium.

Furunkulose (bloedvinte)
Oorsaak: Stafilokokkiem wat vel deur 'n wondjie of a.g.v. wrywing binnedring.
Simptome: Pynlike, etterende seer wat as 'n rooi geswel begin.
Duur: Vyd dae, tot geel pit van "ryp" bloedvint op veloppervlak uitbreek.
Gevare: Verspreiding a.g.v. serfkontaminasie met etter-afskeiding.
Behandeling: 'n Antibiotikum; moenie 'n bloedvint probeer ryp maak met 'n boereraat of uitdruk nie; verf met ontsmetmidel; bedek met pleister en sit hitte op om pyn te verlig; aspirien; reinig vingers voor en na behandeling.

Karkatjie
Oorsaak: Verswering van 'n ooghaarfollikel (-sakkie) te wyte aan 'n ettervormende kiem, gewoonlik uit die neus en met 'n vinger oorgedrea.
Simptome:'n Pynlike, geel knoppie op 'n rooi, opgeswelde ooglid; mag oopbreek en etter afskei en dan genees.
Duur: 'n Paar dae totdat dit oopbreek of gedreineer word; ander karkatjies mag dan verskyn.
Gevare: Daar bestaan geen bedreiging van die gesig nie; karkatjies wat herhaaldelik voorkom, is steurend weens die pyn.
Behandeling: Aanwending van watte of boorsuurlint in warm water gedoop om die karkatjie "ryp" te maak en pyn te verlig; geneesheer mag die verswering oopmaak sodat die etter kan dreineer; antibiotiese middels mag as salf, druppels en mondelike preparate gebruik word om herhalng te voorkom.

Konjunktivitis (seeroë)
Oorsaak: Kieminfeksie, prikkelstowwe, chemikalieë, allergie, vreemde voorwerpe in die oog.
Verskyning: Onmiddellik, ure of dae na blootstelling aan oorsake.
Simptome: Ontsteking van die oë, gekenmerk deur gejeuk, trane, etterige afskeiding vanuit rooi oë en opgehewe, rooi ooglede.
Duur: Dit hang af van die doeltreffendheid van middel; van een dag tot weke; word soms chronies.
Gevare: Beskadiging van die horingvlies; verspreiding van die infeksie na ander lede van die gesin, byvoorbeeld deur handdoek, waslap, kussingsloop wat deur pasiënt gebruik is.
Behandeling: Baai met skoon water of versadigde oplossing van boorsuurkristalle; voorgeskrewe druppels van 'n sulfa- of antibiotiese preparaat; beskerming teen sterk lig en onnodige gebruik van oë.

Kroep (laringitis)
Oorsaak: Infeksie of verkoue van die larinks (strottehoof, stembande).
Verskyning: Gewoonlik by kinders onder 5 jaar, stuwing van die strottehoof.
Simptome: Skor, krampagtige blafhoes; heesheid; hortende asemhaling en benoude bors; koors; angs; kom veral snags en in koue weer voor.
Duur: Aanvalle duur van 'n halfuur tot 3 uur; herstel gewoonlik.
Gevare: uiterste asemnood.
Behandeling: Stel die kind gerus; stoom die vertrek; gee voorgeskrewe middels, indien dit byderhand is. Gaan sien die geneesheer.

Luise
Oorsaak: Parasiet op kopvel (soms elders op die liggaam).
Verskyning: Deur gebruik van 'n kam of ander voorwerp van 'n aangetaste persoon; persoonlike aanraking met iemand wat met luise besmet is.
Simptome: Jeukerige kopvel; rysvormige, grys nete (eiers) wat aan die hare kleef.
Gevare: Om die parasiet oor te dra; infeksie en seertjies op kopvel weens gekrap met vingernaels.
Behandeling: Kam die eiers daagliks uit die hare met 'n kam wat in asynwater gedoop is. Smeer die kopvel daarna in met 'n bestrydende middel. Spoel dit af en was die kopvel deeglik met seep en water. Herhaal daagliks 'n week lank. Raadpleeg die geneesheer as daar ettervormende sere verskyn.

Masels
Oorsaak: Virus in die lugweë oorgedra van persoon tot persoon in vogdruppels in die lug, op linne of klere; selfs aansteeklik 3 tot 5 dae voordat 'n pasiënt self simptome ondervind.
Verskyning: Na 'n broeitydperk van 10 tot 14 dae van blootstelling; kom in epidemies voor.
Simptome: Verkouetekens min of meer van tiende tot veertiende dag na infeksie (koors tot 40,5 grade celsius; loopneus; betraande, rooi oë verdwynende, grys vlekkies in die mond; skor hoesbuie). Tipiese huiduitslag van ongeveer die veertiende dag af (vyfde dag van siekte); begin as fyn, rooi, aaneenlopende spikkels agter die ore en in nek; versprei na romp en ledemate en vorm later dieprooi, aaneenlopende, opgehewe vlekke; opgeswelde nekkliere, veral agter die ore.
Duur: Vier tot 7 dae - daarna verdwyn die uitslag en ergste long-, neus, en oogtekens. Die vel verskilfer.
Gevare: Ernstige newegevolge, soos longontsteking, brongitis, middeloorontsteking, breinontsteking; mag selfs noodlottig wees in jong kinders (babas en jong kleuters behoort dus nie onnodig aan die siekte blootgestel te word nie). Voorkoming in babatyd met immuniserende inspuiting.
Behandeling: Afsondering. Plaas die pasiënt in sy bed en raadpleeg 'n geneesheer. Middels om die pasiënt te laat "uitslaan", soos warm wyn, dien geen nittige doel nie. Bedek die lig as dit sy oë prikkel. Warm, vogtige lug laat die hoesbuie bedaar. Sponsbaddens met water wat koeksoda bevat, help die velprikkeling. Aspirien vir pyn en koors, sowel as ander voorgeskrewe middels, mag die simptome verlig en komplikasies voorkom. Hou die pasiënt in die bed totdat sy koors normaal is en ander simptome verdwyn.

Omloop (douwurm)
Oorsaak: Aansteeklike fungusinfeksie (swam-) of tinea corporis, tinea capitis.
Verskyning: Op enige liggaamsdeel.
Simptome:Kringvormige, skilferende ligrooi kolle met opgehewe, bleker kringe om; die kringe toon 'n neiging om wyer te word.
Duur: Word deur doeltreffendheid van behandeling bepaal.
Gevare: Verspreiding van die letsels na ander liggaamsdele en ander persone; permanente bleskolle op die kop.
Behandeling: Raadpleeg geneesheer vir geskikte mondelike antifungusmiddel en/of aanwendmiddel.

Oorpyn (middeloorontsteking)
Oorsaak: Verkoue, sinusitis, masels, skarlakenkoors.
Verskyning: Gewoonlik nadat neusverstopping met afskeiding 'n paar dae geduur het; soms as komplikasie van 'n aansteeklike siekte.
Simptome: Steekpyn in die oor, infeksie of verswering (te wyte aan dit wat in die geslote holte van die middeloor opbou); koors; dikwels gepardgaande neus- en/of keelinfeksie; jong kinders kan soms nie die seerplek aandui nie, maar vat kort-kort aan die aangetaste oor, of huil as dit aangeraak word, maagpyn en braking as die koors hoog is; bloederige of etterige afskeiding uit die oor nadat die pyn verminder het. Tandpyn of oorpyn word soms na die oor verwys.
Duur: Pyn duur totdat verswering deur die trommelvlies na buite uitbars, of totdat 'n doeltreffende middel gebruik word.
Gevare: Chroniese loopoor; mastoiditis; doofheid (tydelik in minder ernstige gevalle)
Behandeling: Aspirien of parasetamol per mond; warmwatersak teen aangetaste oor; druppels, indien voorgeskryf, of lou olyfolie in die oor gedrup (maar nie as daar afskeiding voorkom nie); voorgeskrewe antibiotiese middel; as daar afskeiding uit die oor loop, word die uitwendige ooropening en -skulp met 'n flou antiseptiese middel skoongewas, 'n wattepluisie liggies ingesit, en die pasiënt word aangemoedig om op daardie sy te lê alle gevalle van oorpyn behoort binne 24 uur by 'n geneesheer aangemeld te word.

Pampoentjies
Oorsaak: Virus wat aangesteek word by 'n lyer; die siekte is gesetel in die paratis-speekselklier (voor en onder die oor) maar mag hewige newe-effekte hê.
Verskyning: Na 'n broeitydperk van 12 to 24, selfs 30 dae van blootstelling.
Simptome: Knieserigheid vir 2 tot 4 dae; daarna volg koors tot 40,5 grade C, pynlike, degerige geswel voor en onder die oor aan een of weerskante van die gesig; somtyds word die speekselkliere onder die kakebeen se hoek ook aangetas. Pyn vererger deur suur en prikkelende voedsel.
Duur: Sewe tot 10 dae indien daar nie komplikasies is nie.
Gevare: Aantasting van die geslagskliere na puberteit, gekenmerk deur pyn en rooi geswel; brein- en breinvlies-ontsteking, gekenmerk deur 'n ylende, onuitstaanbare hoofpyn, hoë koors en prikkelbaarheid; pankreatitus, gekenmerk deur kwaai buikpyn, braking en uitputting.
Behandeling: Voorkom deur immuniserende inspuiting babatyd. Afsondering in 'n bed. 'n Ligte, vloeibare dieet en vermy surigheid en speserye. Warmte op geswelde kliere. Pynstillende en koorswerende middels. Raadpleeg geneesheer as tekens van komplikasies verskyn. Bedrus tot 24 uur nadat geswel verdwyn het en die pasiënt se koors normaal is. Raadpleeg geneesheer oor die toediening van immuunserum van 'n lyer met wie pasiënt in aanraking was.

Pienkoog
Die mediese term vir pienkoog is konjunktivitis. Dis 'n inflammasie van die membraan wat die oog bedek en die binneste oppervlak van die ooglid omlyn. Heelparty kombinasies van die volgende simptome kan aanwesig wees:

* jeukerigheid
* rooiheid
* sensitiwiteit vir lig
* Swelling van die ooglede
* 'n afskeiding wat kan wissel van waterig to etterig.


'n Diagnose word gemaak nadat die dokter jou oog ondersoek het. As daar 'n afskeiding is, kan dit getoets word om die oorsaak vas te stel. Konjunktivitis duur gewoonlik net twe of drie dae. Medikasie in die vorm van druppels, pille of rome kan voorgeskryf word om te help om die kieme in die oog te vernietig en ongemak te verlig.

Skarlakenkoors
Oorsaak: Streptokokkuskiem in vogdruppels uit neus, mond en keel van 'n lyer of draer. Oorgedra deur direkte kontak of besoedelde melk en ander voedsel.
Verskyning: Twee tot 7 dae na blootstelling, selde in die winter; kom minder voor as vroeër.
Simptome: Koors; braking; seerkeel; fyn, dieprooi uitslag verskyn bine 24 of 48 uur op die vel, veral opmerklik in oksels en lieste; daar is 'n kenmerkende bleek kring om die mond.
Duur: In onbehandelde gevalle duur koors 'n paar dae en daal geleidelik. Uitslag duur 3 tot 7 dae, gevolg deur verskilferig van die vel.
Gevare: Opgeswelde nekkliere, oorinfeksie, nefritis (niersiekte), hartskade.
Behandeling: Antibiotiese middels het 'n ommekeer in die erns van die siekte gebring. Ontbied die geneesheer dus onmiddelik sodat die duur verkort kan word. Onbehandelde pasiënte moet 2 tot 3 weke afgesonder word.

Waterpokkies
Oorsaak: 'n Virus wat oorgedra word deur die omgewing van 'n sieke, of direkte aanraking met besoedelde klere, komberse of ander persoonlike artikels.
Verskyning: Twee tot 3 weke na blootstelling.
Simptome: Koors; prikkelbaarheid; waterblasies verskyn op ligrooi bultjies op die gesig, nek, romp en ledemate oor 'n tydperk van dae, maar hoofsaaklik die eerste dag van olikheid. Die blasies breek en vorm jeukerige rowe op die vel.
Duur: Koorsigheid duur meesal net 24 uur, maar dit duur tot 14 dae vir die pasiënt om te vervel.
Gevare: Dit is gewoonlik nie 'n gevaarlike siekte nie. Lelike letsels of huidinfeksie mag volg op krappery van die uitslag.
Behandeling: Voorkom met immunisasie kleintyd. Hou pasiënt in die bed solank hy knieserig en koorsig is. Sonder hom af totdat pokke vervaag. Weerhou hom daarvan om daaraan te krap - veral aan die gesig. Gejeuk kan of behandel word in 'n styselbad (2 koppies meelbol in 'n bad lou water vir 10 minute), of deur aanwending van kalamyn of voorgeskrewe middel en mondelike inname van antihistamien. Geneesheer mag antibiotiese middels aanbeveel vir komplikasies.

Wurms
Oorsaak: Die parasiete of hul eiers word met voedsel ingeneem, of deur vuil vingers in die mond te plaas. Die hoekwurm mag die voetsole uit die grond deurdring en later in die ingewande beland.
Simptome: Gejeuk om die anus; effense opgeblaasdheid en slegte spysvertering indien 'n swaar infeksie; tandekners en verstoorde nagrus; bednatmakery; wurms in die ontlasting (rondewurms). Rondewurms lyk soos groot erdwurms, maar is langer en dikker; draadwurms lyk soos kort, kriewelende garedraadjies.
Gevare: Herinfeksie; bloedarmoede; dermverstopping; ondervoeding.
Behandeling: Soos deur 'n geneesheer aanbeveel. Dit is raadsaam om die hele huisgesin gelyktydig te behandel. Spoel ongekookte groente en ongeskilde vrugte deeglik af om moontlik aanwesige wurmeiers te verwyder. Die kom ook voor in die linne en vloermatte van 'n slagoffer. Suig op met 'n stofsuier, skud buite uit en stel bloot aan sonlig en wind om herinfeksie te voorkom.

           


" Na Bo "

KOPIEREG 2009-2024 KLEUTERS. ALLE REGTE VOORBEHOU.