Aksie liedjies
Aksie liedjies

Aksieliedjies en vingerspeletjies is 'n heerlike manier om saam met jou kleuter te sing, speel en leer. Dit help met taalontwikkeling, geheue, ritme, koördinasie en kleinspierontwikkeling. Maak saam musiek, beweeg en geniet elke oomblik!

Kieliespeletjie 1

Hier kom 'n muis,
hy bou 'n huis (vat aan ken).
Hier kom 'n muggie,
hy bou 'n bruggie (vat aan neus).
Hier kom 'n vlooi,
hy spring in die kooi (kielie kleuter).

Kieliespeletjie 2

Dinker (raak aan voorkop)
Blinker (regteroog)
Traneskinker (linkeroog)
Suiker (regteroor)
Ruiker (neus)
Kussingduiker (linkeroor)
Kuller (bolip)
Smuller (onderlip)
Harde bruller (tong)
Kinneke-kennetjie-tien (kielie onder die ken).

Koekies bak

Handjies klap, koekies bak,
Handjies klap, koekies bak,
bring die meel,
nie te veel,
klits die eiers gou-gou-gou,
(vryf die handjies vinnig teen mekaar)
lekker eet ons nou-nou-nou.
(gooi die handjies in die lug)

Vingerspeletjies

Druk op elke vinger van die kleuter se hand volgensdie rympie en kielie met die laaste reëltjie.

Hierdie varkie gaan mark toe,
hierdie varkie bly tuis,
hierdie varkie eet blomkool,
hierdie varkie kry niks nie,
en hierdie varkie skreeu: "Wee-wee-wee,
ek kan my mamma nie kry nie."
Duimpie,
Duimpie se maat,
Langeraat,
Fielafooi,
Piepie in die kooi.
Duimpie het in die water geval,
Lekkerpot het hom uitgehaal.
Langeraat het hom huis toe gedra,
Fielafooi het hom neergelê
en Pinkie het vir Ma gaan sê.
Dit is my pappie (duim omhoog),
dit is my mammie (wysvinger),
dit is my ouboet Lance (middelvinger),
dit is my sussie (ringvinger),
dit is ons baba (pinkie),
en ons woon almal saam (vou vingers saam).